TUISBLAD

Welkom by die amptelike webblad van die

NG KERK VRYSTAAT 

Die Sinode van die NG Kerk Vrystaat is een van die 10 sinodes van die Algemene Sinode en bestaan uit 21 Ringe en 157 gemeentes.

 

ONS VISIE

FAKKEL - VOLKLEUR-001

 

Lig in die duisternis, hier vir God, mekaar en die wêreld

 

ONS GEREFORMEERDE IDENTITEIT

  • Ons glo dat die Bybel God se skrifgeworde openbaring is. Ons bely daarom dat die Bybel God se woord in mensetaal is wat deur die Heilige Gees geïnspireer is en God se norm vir ons lewe is. Die Bybel moet na sy aard en bedoeling vertolk en verklaar word, met dien verstande dat die Bybel sy eie uitlegger is en dat elke gedeelte in sy verband uitgelê moet word. Ons glo dat ‘n lewende, persoonlike verhouding met God belangrik is vir die verstaan van die bedoeling van die Skrif.
  • Ons erken dat die post-moderne tydsgees daartoe lei dat waarhede gerelativeer word. Ons het begrip dat dit tot identiteitskrisisse en tot onsekerheid kan lei. Daarom verklaar ons opnuut ons gehegtheid aan ons gereformeerde belydenisskrifte: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Ons aanvaar hierdie belydenisskrifte as bindend omdat dit ooreenstem met die Bybel as die Woord van God. Die inhoud van hierdie belydenisskrifte moet in ons harte leef. Ons vra leraars om die inhoud van die Belydenisskrifte weer op ‘n nuwe, vars manier in gemeentes bekend te stel.
  • Ons sien ons eredienste as ontmoetings met die lewende God waar Hy deur sy Woord en Gees teenwoordig is. Hierdie waarheid maak dat elke byeenkoms gekenmerk word deur ‘n diepe respek vir God. Ons erken dat daar verskillende spiritualiteite in ons kerk is wat in die diversiteit van ons aanbidding sigbaar geword het. Ons verklaar egter dat daar geen plaasvervangers kan wees vir deeglik voorbereide eredienste waar Skrifgefundeerde prediking, die wet van God en die belydenis sy plek kry nie. Ons staan daarby dat daar sekere hoekstene is wat ons eredienste kenmerk maar erken dat daar op Skrifgetroue, verantwoordelike en stylvolle wyse met die boustene op daardie hoekstene gebou kan word.
  • Ons verstaan ons roeping dat ons “Lig in die duisternis” is: “Hier vir God, mekaar en die wêreld”. Ons glo dat die waarhede van die Bybel in ons konteks moet tuiskom. Daarom aanvaar ons die uitdaging om gestuurde gemeentes te wees; mense wat diep onder die indruk is dat ons uit genade gered is en nou uit dankbaarheid ‘n verskil wil gaan maak in die gebroke wêreld rondom ons. Die besinning oor gereformeerde identiteit is ‘n noodsaaklike en voortgaande gesprek. Daarom onderneem ons om voortdurend hieraan aandag te gee.

 

Navrae - kontak die webmeester: kerkinfo@ngkvs.co.za